GESKRYF DEUR ROEDOLF BOTHA Waarom is die bestaan van ‘n persoonlike God die beste verduideliking vir die ontstaan van die heelal? Wetenskaplikes en filosowe word al eeue lank gefassineer deur die vraag ‘Waarom bestaan iets eerder as niks?’ Tot voor Einstein was die Newtoniaanse veronderstelling aanvaar dat die heelal ewig is dat daar geen einde daaraan is nie. Volgens die wetenskap het mense dus aangeneem dat die heelal geen begin in tyd gehad het nie. Met die koms van Einstein en later ook met die hulp van die nuutste tegnologie in Astronomie, het die wetenskap egter gewys dat al die hemelliggame besig is om uit mekaar weg te dryf en dat die heelal daarom steeds besig is om te vergroot. Dit en baie ander navorsing het daartoe gelei dat geleerdes tot die konklusie gekom het dat die heelal daarom ’n begin moes gehad het. As alles met die verloop van tyd verder weg beweeg van mekaar, dan is die implikasie dat, as ons teruggaan in tyd, alles nader aan mekaar beweeg tot by ‘n beginpunt. Hierdie navorsing dui dus daarop dat tyd en ruimte ontstaan het met ’n kosmiese oerknal (Big bang) byna 14 Biljoen jaar gelede. Wat ons hieruit kan aflei is dat iets uit niks ontstaan het. Die vraag is egter: waar het die eerste materie en energie vandaan gekom? Die vraag in hierdie hoofstuk handel dus nie oor die detail van mikro-evolusie en of die dierelewe van die een spesie na ‘n volgende kon muteer nie. Ek is ‘n Christen wat glo dat die Bybel en die evolusieteorie nie noodwendig in stryd is met mekaar nie. Die spesifieke aard en poëtiese genre van Genesis 1 en 2 maak dit onbelangrik of die skepping oor ’n kort of lang tyd plaasgevind het. Die Bybel maak in ’n groot mate voorsiening vir die resultate wat die wetenskap aangaande evolusie beskikbaar stel. Baie Christen wetenskaplikes is vandag uiters aktief in die evolusionêre wetenskap wat geen spanning sien tussen evolusie en die skepping deur die God van die Bybel nie. Vir die Christen sou evolusie bloot die proses kon beskryf waardeur God geskep het. Sekulêre wetenskaplikes wat dink dat evolusie en geloof in ’n God mekaar weerspreek, besluit nie so op grond van die wetenskap alleen nie, al dink hulle so. Professor Allister McGrath, ’n teoloog met ’n Oxford doktoraal in biofisika, beweer dat meeste van die nie-gelowige wetenskaplikes op ander gronde as hulle wetenskapsbeoefening besluit of hulle glo of nie. ‘n Klomp komplekse faktore lei daartoe dat sekere wetenskaplikes in God glo of nie glo nie. Sommige van die redes is sosiaal van aard, ander is intellektueel en ander weer beïnvloed deur persoonlike ervarings. Antony Flew veduidelik hierdie saak goed: Wanneer jy besig is om die interaksie tussen twee fisiese liggame te bestudeer, soos byvoorbeeld twee sub-atomiese partikels, dan is jy met wetenskap besig. Die oomblik wanneer jy egter vra hoe dit is dat hierdie twee partikels bestaan en waarom, dan is jy met die filosofie besig. Richard Dawkins sou egter almal wou laat verstaan dat geen regdenke wetenskaplike in God kan glo nie. Dit is egter eenvoudig net nie waar nie. Stephen Jay Gould was ’n Harvard wetenskaplike, self ’n ateïs, wat radikaal met Dawkins sou verskil. Hy word deur Tim Keller aangehaal waar hy sê,‘Either half of my colleagues (Christene) are enormously stupid, or else the science of Darwinism is fully compatible with conventional religious beliefs – and equally compatible with atheism.’ Daarom kry mens vandag byna ewe veel wetenskaplikes wat glo, as wat nie glo nie. Die wetenskap werk met natuurwetenskaplike feite en prosesse en met teorieë oor hierdie feite. Sommige wetenskaplikes kyk na hierdie feite en prosesse en besluit dat hulle glo. Ander kyk na dieselfde feite en besluit dat hulle nie glo nie. Wat maak egter die verskil? Die verskil lê in die filosofiese bril (hul voorveronderstellings) waardeur die feite geïnterpreteer word, soos wat Alister McGrath hierbo verduidelik het. Die filosofie vra die sogenaamde ‘groot vrae’ van die lewe soos ‘Is daar ’n God?’ en ‘Wie het die heelal geskep’, ensovoorts. Hierdie vrae is strenggesproke nie die wetenskap se werk nie, alhoewel dit nie beteken dat ’n wetenskaplike nie ’n standpunt hieroor kan hê nie. Sy kundigheid as wetenskaplike help hom egter nie noodwendig met hierdie vrae nie. Die groot vyand van geloof is dus nie evolusie nie, maar eerder ‘filosofiese naturalisme’. Baie wetenskaplikes wat anti-supernaturalistiese voorveronderstellings het, maak eintlik filosofiese keuses, maar gebruik dan die wetenskap as verskoning vir daardie keuses. Filosofiese naturalisme maak die bewering dat alles ontstaan het en bestaan sonder die ingrype van ’n skepper-God. Die wetenskap kan egter nie alles verklaar nie en daar is baie waarhede wat op ander terreine as die wetenskap gesoek moet word. Die vraag wat beide wetenskaplikes en filosowe nou al vir lank vra is: Hoe het die heelal ontstaan? Ek is van mening dat God as Skepper die beste verduideliking is vir die ontstaan van alles. Ek dink dat enige iemand wat beweer dat alles uit niks uit ontstaan het sonder ’n Skepper, baie meer het om oor te verantwoord as iemand wat in die bestaan van God glo. In die laaste tyd is daar al hoe meer wetenskaplikes en filosowe wat saamstem oor die idee van ’n Skepper. Professor William Lane Craig is ‘n filosoof wat ’n doktoraal gedoen onder John Hick, een van die wêreld se mees beroemde pluralisitese filosowe. Craig gebruik ’n baie eenvoudige argument om oor God as Skepper te redeneer, naamlik die Kalam kosmologiese argument. Hierdie argument berus op drie punte van eenvoudige logika. Iets wat ’n begin het, het ’n oorsaak vir waarom dit begin het.Die heelal het ’n begin gehad (bv. wetenskaplike getuienis van die ‘Big Bang’).Daarom het die heelal ’n oorsaak gehad. Net een waarskuwing: Moenie vaskyk teen die oënskynlike eenvoud van hierdie argument nie. Craig beredeneer veral die tweede stelling van hierdie argument volgens erkende wetenskaplike data en in baie diepte. Jy kan op sy website lees hoe hy met groot sukses swaarde kruis met van die wêreld se top wetenskaplikes. Die argument berus egter op die eenvoudige redenering van oorsaak en gevolg.Dit wys op die realiteit dat alles in die heelal afhanklik is van ’n groter sisteem en ‘n oorsprong het in die groter sisteem. Neem ’n blomplant as voorbeeld. Die ontstaan daarvan was afhanklik van ‘n klomp faktore soos ’n moederplant wat die saadjie gevorm het, ‘n gunstige ekologiese sisteem om in te onwikkel, voedsel en water in die grond, ensovoorts. Die ekologiese stelsel waarin die blomplant voorkom, het weer ‘n oorsprong in ‘n groter konteks waarin dit afhanklik is van verskeie faktore. Voëls is afhanklik van die seisoene, van die wind en beskikbaarheid van voedsel. Hulle oorsprong sowel as voortbestaan lê buite hulleself. Ons planeet is afhanklik van al die kragte teenwoordig in die sonnestelsel. Ons sonnestelsel is weer afhanklik van die sterrestelsel waarvan dit deel is, en so kan ons aangaan. Niks in die ganse skepping is so geïsoleerd en onafhanklik dat dit vanself ontstaan het of kon bestaan nie. Indien die aard van alles in die heelal dan sodanig is dat elke liewe entiteit se oorsprong afhanklik is van iets anders, dan maak dit tog sekerlik sin om tot die konklusie te kom dat die heelal self ook afhanklik sou wees van iets buite die heelal self. Daardie iets is God. Ons verkeer in goeie geselskap wanneer ons ’n standpunt het soos bogenoemde. Francis Collins is ’n biogenetikus en was tot onlangs die leier van die baie interessante Human Genome projek waar hy navorsing gelei het aangaande die manipulering van DNS en RNS vir die verligting van siektes by veral kinders. Hy word in wetenskaplike kringe as ‘n pasaangeër beskou en het sy loopbaan as ’n ateïs begin. Later het sy studies en persoonlike lewe hom egter gelei tot geloof in Jesus Christus. In dieselfde jaar waarin Richard Dawkins se The God Delusion verskyn het, het Collins ook sy eie boek laat publiseer, getiteld The Language of God. Hierin sê hy onder andere die volgende. ‘We have this very solid conclusion that the universe had an origin, the Big Bang. Fifteen billion years ago, the universe began with an unimaginably bright flash of energy from an infinitesimally small point. That implies that before that, there was nothing. I can’t imagine how nature, in this case the universe, could have created itself. And the very fact that the universe had a beginning implies that someone was able to begin it. And it seems to me that had to be outside of nature.’ Kom ons wend ons vir ‘n paar oomblikke tot die filosofie. Antony Flew word in ’n groot mate beskou as dié ateïstiese filosoof van die tweede helfte van die twintigste eeu. Flew was nie net ’n ateïs nie, maar het die grondwerk gelê vir ’n ateïstiese Philosophy of Religion – die beginpunt vir enige filosoof wat die vak wou bedryf vanuit ’n ateïstiese perspektief. Johan Erasmus, ’n goeie vriend van my en ’n student in filosofie, noem Flew die gewese ‘hoofseun’ van ateïsme. Roy Varghese skryf die volgende oor Flew se bydrae tot die filosofie. ‘It is not too much to say that within the last hundred years, no mainstream philosopher has developed the kind of systematic, comprehensive, original and influential exposition of atheism that is to be found in Antony Flew’s fifty years of antitheological writings.’ Ek sê ‘gewese’ hoofseun, want nadat Flew vir meer as vyftig jaar filosofie bedryf het as ’n ateïs, het hy van opinie verander in sy tagtiger jare en erken hy die bestaan van God! Op 9 Desember 2004 verskyn ’n artikel in die Associated Press wat onder andere die volgende sê: ‘A British philosophy professor who has been a leading champion of atheism for more than half a century has changed his mind. He now believes in God more or less based on scientific evidence, and says so on a video released Thursday.’ Dis sekerlik onnodig om te sê dat Flew die filosofiese wêreld geskud het. Die drie vrae wat Flew uiteindelik tot sy gedagteverandering aangaande die bestaan van God gelei het, was onder andere die volgende:Hoe het die natuurwette ontstaan? By ‘wette’ bedoel Flew die gereguleerdheid en simmetrie in die natuur. ‘n Voorbeeld is Newton se eerste wet van beweging (’n rustende voorwerp sal rustend bly tensy ’n ander eksterne en ongebalanseerde krag daarop begin inwerk). Nog ’n voorbeeld is die wet van die behouding van energie (die totale hoeveelheid energie binne-in ’n geïnsoleerde sisteem bly altyd konstant). Die merkwaardige is egter nie dat hierdie simmetrie en gereguleerdheid bestaan nie, maar dat hulle wiskundig presies is, universeel en in konsekwente eenheid funksioneer. Einstein het hierdie natuurverskynsels ‘reason incarnate’ genoem. Die groot vraag is na hoe die natuur in hierdie vorm ‘verpak’ gekom het. Dis die vraag waarmee Newton, Einstein, Heisenberg en ander oor jare gestoei het. Hulle antwoord (ten spyte van die feit hulle nie almal die tradisionele siening van God gehad het nie) was dat hierdie dinge hulle oorsprong in die ‘Mind of God’ het. Dit is ook die konklusie waartoe Antony Flew na ’n lewe van oordenking gekom het.Hoe het lewe ontstaan uit nie-lewe? Met ‘lewe’ bedoel Flew drie dinge. Eerstens bedoel hy dat lewende materie inherente doelgerigtheid en uitkomsgebaseerde patrone openbaar. Richard Cameron wys daarop dat alle lewe hierdie eienskappe besit. Die oorsprong van self-produksie is die tweede punt waarmee Flew moes worstel. Hierdie eienskap kan nie self op ’n natuurlike wyse vanuit ’n materiële basis ontwikkel nie. Die derde faktor wat Flew laat wonder het, was die oorsprong van kodering en informasie wat vervat is in alle lewende dinge. Die genetiese boodskappe in DNS word gedupliseer en dan oorgedra na RNS in transkripsie. Hierna is vind daar vertaling van die RNS na die aminosure plaas. Hoe kon hierdie kenmerkend lewende prosesse uit nie-lewe ontstaan? Paul Davies beklemtoon hierdie probleem verder: ‘The problem of how meaningful or semantic information can emerge spontaneously from a collection of mindless molecules subject to blind and purposeless forces presents a deep conceptual challenge.’ Michael Behe, mikrobioloog van Lehigh Universiteit, Pensylvania, gee die volgende te kenne: 'The result of accumulative efforts of scientists to investigate the cell, to investigate life at the molecular level is a loud, clear, piercing cry of "Design, design, design!!' Hoe het die heelal uit niks ontstaan? Hierdie punte het ons reeds hanteer onder die Kalam kosmologiese argument waarvan William Lane Craig ’n voorstaander is. Antony Flew het by dieselfde konklusie gekom, naamlik dat iets wat ’n begin gehad het, ’n oorsaak moet hê. Die bestaan van die heelal is iets wat vra vir ’n verduideliking. Die konklusie waartoe Flew gekom het was dat God hierdie verduideliking is. Voordat jy dink dat Flew die uitsondering op die reel is, moet ek byvoeg dat topklas filosowe besig is om wêreldwyd aansprake te maak dat hulle ’n teïstiese (dat God bestaan) of Christelike wêreldbeskouing handhaaf. Onder hulle is daar name soos Richard Swinburne, Alvin Plantinga, Peter Geach, William P Alston, George Mavrodes, Norman Kretzman, James F Ross, Peter van Inwagen, Eleonore Stump, Brian Leftow, John Haldane en nog ander. Time Magazine publiseer in April 1980 ’n artikel wat onder andere sê, ‘In a quiet revolution in thought and argument that hardly anyone have foreseen only two decades ago, God is making a comeback. Most intriguingly this is happening… in the crisp intellectual circles of academic philosophers.’     

 

 

 

Dialogue is not simply an exchange of ideas. In some way it is an "exchange of gifts." There is a close relationship between prayer and dialogue. Deeper and more conscious prayer makes dialogue more fruitful. If on the one hand dialogue depends on prayer, so, in another sense, prayer also becomes the ever more mature fruit of dialogue.

 

 - Pope John Paul II

 info@dialoog.co.za