GESKRYF DEUR ROEDOLF BOTHA

 

DIE PROBLEEM VAN PSEUDOWETENSKAPLIKHEID IN SA

 

Ons leef vandag in ‘n wêreld wat soos nog nooit tevore mure wil afbreek, grense wil verskuif en brûe tussen opponerende groepe wil bou nie. Teen hierdie tyd weet ons egter dit is makliker gesê as gedaan: vir elke skeiding wat afgebreek word, word daar ‘n nuwe een opgerig. ‘n Skeidslyn wat vandag al hoe meer gereeld getrek word, is tussen die rede en die geloof. Dis ‘n eeue-oue stryd, maar dit het in die afgelope dekade opnuut uitgebars in die Weste met die publikasies van die sg. ‘Nuwe Ateïste’, waarvan Richard Dawkins, Sam Harris, wyle Christopher Hitchens en Daniel Dennett seker die bekendste is. Die Nuwe Ateïste tref graag ’n rigiede onderskeid tussen rasionele mense wat verspotte dinge soos geloof in God agtergelaat het om die wêreld nou in die nugter lig van die wetenskap te beskou, en verkrampte, agterlike gelowiges wat deur die wetenskap ‘genees’ moet word van hulle ‘irrasionaliteit’.

 

Hierdie standpunt het onlangs ook ‘n Afrikaanse stem gekry in die vorm van George Claassen en sy gespreksgenote se God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles (Tafelberg 2012). Soos hulle internasionale eweknieë, blyk dit ook asof hierdie span hulself reken as gedugte verdedigers van die wetenskap te midde van ‘n irrasionele moeras soos dit volgens hulle gestalte het in die Suid-Afrikaanse geloofsgemeenskap. Soos Richard Dawkins (wat volgens al die verwysings in bg. boek skynbaar ‘n substansiële bron van inspirasie vir George Claassen en sy gespreksgenote is), beskou Claassen dit as sy taak om die oningeligte massa bekend te stel aan die denke van Charles Darwin en die wondere van die ewolusieteorie. Dit is op sigself ‘n welkome idee in ‘n land wat tans ‘n onderwyskrisis beleef. Daar is egter ‘n groot probleem: Beide Dawkins en Claassen blyk onkundig te wees rakende die aard en bestek van die wetenskap wat hulle so entoesiasties probeer verdedig. Soos die meeste verergde ateïste, vertoon Claassen vol wrewel teenoor die godsdiens, maar is daar weinig sprake van ‘n deurdagte begrip vir die wetenskap as vakgebied. Claassen se inleidingsessay, net soos die inhoud van die meeste van sy gespreksgenote se bydraes, wemel van denkfoute en ‘n onvermoë om filosofies gesofistikeerd met Darwin se idees om te gaan en sal selfs ‘n eerstejaarsfilosofiestudent laat bloos. Anders as wat algemeen aanvaar word, is die grootste gevaar vir die wetenskap nie die geloof nie, maar ‘n onbegrip vir wat ‘n wetenskapsgefundeerde wêreldbeeld behels. Hierdie onbegrip kom duidelik na vore in die skrywes van Claassen, Piet Croucamp, Jurie van den Heever, Dave Pepler, Lizette Rabe, Alex Valentine, Pienkes du Plessis, Christi van der Westhuizen en ook die digters soos Breyten Breytenbach en Antjie Krog.

Natuurlik bestaan daar opregte twyfel in God wat nie op ‘n pseudo-intellektuele, pseudo-wetenskaplike fundamentalisme gebaseer is nie. Die skrywers van hierdie essay wil dit duidelik stel dat ons nie reageer teen die sieninge van ál die skrywers in die boek nie, maar meestal teen diegene wat ’n eng siening van die wetenskap en die teologie openbaar en dit wanvoorstel. Anders as wat die geval is met die meeste reaksies teenoor die Nuwe Ateïsme tot dusver, is hierdie ook nie net nog ’n pleidooi om ‘oopkop’ te wees of te pleit vir die teologie om tog ook ’n plekkie aan die kennistafel te kry nie (selfs al glo ons wel dat die teologie bepaalde kennisaansprake maak). Ons wil dit bloot stel dat ons die waarde van kritiese nadenke in net so ’n ernstige lig beskou as wat Claassen en kie beweer hulle doen. Trouens, ons wil graag hulle ‘wetenskaplike’ stellings aan die standaarde van die rede self stel. So kom ons kyk wat gebeur.

Soos sy intellektuele voorsate ’n eeu gelede, steun Claassen (asook Valentine, Pepler en van der Heever) sterk op Darwin se ewolusieteorie (en ja, ons aanvaar dit as ‘n lewensvatbare wetenskaplike teorie), maar poog dan om die werklikheid as geheel aan die hand van Darwin se idees te verklaar. Dit lei egter tot ’n skeefgetrekte prentjie van die wetenskap wat amper net so bisar is as die bygeloof en kwaksalwery wat Claassen-hulle aanval. Claassen mag miskien nie aan God glo nie, maar hy eggo Richard Dawkins met ’n passie wat grens aan afgodery. Reeds die titel is misleidend: behalwe vir die paar teoloë wat darem nog duidelik stel dat hulle in ’n Skepper en ewige lewe glo, bevat God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles nie feit óf opinie oor die vrae wat hulle beloof om aan te spreek nie, naamlik: wat is die oorsprong van die heelal en lewe op aarde, en waarheen is alles op pad? Daar is nie ’n woord daaroor van enige nie- proto- of pseudo-gelowige nie.

Claassen haal ’n paar mislukte pogings aan om godsdiens te probeer verklaar en besluit dan om eerder van ‘n

‘God-meem of godsdiens-meem’ te praat. Dit is ’n term wat hy net so oorneem van Richard Dawkins se poging om ‘n parallel te trek tussen hoe gene in organismes oorgedra word en hoe idees (of meme) in ‘n kulturele konteks versprei. Gene word gekopieer van die ouers na hul nasate, van een generasie na die volgende. Ooreenstemmend hiermee is ’n meem enige verstandskonstruk wat gerepliseer word van brein na brein via enige vorm van kopiëring. (Dawkins volgens Claasen 2012). Aangesien beide Claassen en Dawkins materialiste is (d.w.s., hulle ontken die bestaan van ’n nie-materiële wêreld) sou ’n mens graag wou sien dat hulle ’n ordentlike verklaring vir die ontologiese status (ontologie is die afdeling van filosofie wat vra na wat dinge eintlik is) van meme gee. In doodgewone Afrikaans: ons het nou gehoor hoe meme voortplant, maar wat is hulle nou eintlik? Hoe baken jy ’n meem af? Is dit byvoorbeeld ’n hele liedjie, of slegs een noot op ’n slag? En hoe word daar vir hulle teenwoordigheid getoets? Claassen benadruk juis graag dat feite aan wetenskaplike standaarde moet voldoen. Daar is twee maniere waarop dit kan geskied. David Hume onderskei tussen sg. relasies van idees (relations of ideas) en ‘matters of fact’. Die oorspronklike skrywe lees:

All the objects of human reason or enquiry may naturally be divided into two kinds, to wit, Relations of Ideas, and Matters of fact. Of the first kind are the sciences of Geometry, Algebra, and Arithmetic ... [which are] discoverable by the mere operation of thought ... Matters of fact, which are the second object of human reason, are not ascertained in the same manner; nor is our evidence of their truth, however great, of a like nature with the foregoing.

 

Strawson het eersgenoemde beskryf as die soort van waarhede wat ’n mens kan vind terwyl jy op jou bank lê. Dit is basies die feite van logika en wiskunde, en dit kan nie weerspreek word nie. Voorbeelde is dat 2 + 3 = 5, of dat ’n vierhoek vier hoeke het en nie drie of twee kan hê nie. Die tweede groep is empiriese feite, dit waarmee die natuurwetenskap bemoei is: dit meet, pas en toets, en eksperimenteer. Anders as relasies van idees, kan dit wat die natuurwetenskappe toets egter nooit as finale waarheid dien nie, omdat daar altyd die moontlikheid is dat daar ’n gebeurtenis kan plaasvind wat as uitsondering gesien kan word op die wetenskaplike reël.

Die vraag is dus: wat is die status van meme? Meme is nie empiries verifieerbaar nie (as jy ’n brein sou oopsny gaan jy tog nie meme sien nie – kyk gerus na die toneel in Hannibal waar Hannibal Lecter die speurder wat hom gevolg het, se kop oopsny) en is ook nie ‘n logiese noodwendigheid nie. Meme val nie in een van Hume se kategorieë nie, en daarvolgens sou ‘n mens moet vra of ons enige kennisaansprake oor meme kan maak. Hier is dus sprake van wat Gilbert Ryle ’n kategoriefout noem: meme is nog vis, nog vlees.

Om die waarheid te sê, die meem-idee is so onoorspronklik soos ’n donker en stormagtige nag in ’n horror-film. Die gedagte van ‘n ‘eenheid van inligting’ is al in 1916 deur Ferdinand du Saussure in sy gevierde semiotiek gebruik, asook deur semioloë soos Levi-Strauss en selfs Umberto Eco. Wat Claassen verder skynbaar nie besef nie is dat die meem-teorie ook geen kriteria bied om te onderskei tussen sg. ‘goeie’ meme en ‘slegte’ meme nie. Soos Claassen self erken, die godsdiensmeem blyk heel sterk te wees. As dit dan blyk om ’n sterker oorlewingsvermoë te hê as die sg. ‘rasionele’ meme, op grond waarvan sal Claassen dit dan afskiet? Per slot van sake skryf Nietzsche dat beide die goeie en die slegte ons help oorleef. Dit sou interessant wees om Claassen se antwoord te kry oor hoe hy die ‘goeie’ bepaal. Wat die sg. Nuwe Ateïsme so intellektueel bejammerenswaardig maak, is die feit dat hulle die afgewaterde Christelike moraliteit van die laatmoderne tydperk (ons verkies hier die term laatmodern, eerder as postmodern, omdat die term so misbruik word) aanneem as verteenwoordigend van moderniteit as sulks. Hierdie is ’n ou probleem, een wat ten minste teruggaan na die negentiende eeu. Nog voor die koms van Darwin het Nietzsche oor die verlies van God in Engeland so geskryf:

 

When the English actually believe that they know ‘intuitively’ what is good and evil, when they therefore suppose that they no longer require Christianity as the guarantee of morality, we merely witness the effects of the dominion of the Christian value judgment and an expression of the strength and depth of this dominion: such that the origin of English morality has been forgotten, such that the very conditional character of its right to existence is no longer felt. For the English, morality is not yet a problem.

 

Soos Darwin se rotweiler (Dawkins) val Claassen in die deur met ’n verwoede verdediging van evolusie. Hy begin met die naïewe vraag na waarom Charles Darwin nou juis deur gelowiges geteiken word. Hy vra waarom ander wetenskaplike teorieë soos relatiwiteit, termodinamika, swaartekrag, of die kiemteorie van Pasteur, of Bernoulli se teorie oor lug- en vloeistofdruk, dan nie as geloofsidees klassifiseer nie, maar slegs die ewolusieteorie? Is dit dalk, sou Claasen wou weet, omdat ewolusie en die oerknal as teorieë die skeppingsverhale en beloftes van ’n ewige lewe wesenlik onder verdenking plaas?

Die kort antwoord op Claassen se vraag is eenvoudig. Alhoewel baie gelowiges se nekhare onmiddellik rys as hulle woorde soos ‘ewolusie’, en tot ’n mindere mate ‘oerknal’ hoor, is dit eenvoudig nie waar dat enige van hierdie teorieë opsigself ’n bedreiging vir die Christelike geloof is nie.

Die konsep ewolusie word deur Richard Dawkins gedefinieer as ‘in biology, descent with modification, the process whereby all living things on Earth have diverged, by direct descent, from a single origin of life that occurred more than 3,000 million years ago’. Dit is ’n definisie en feit waarmee geen opgevoede mens vandag meer sal stry nie. Dit is ’n geldige verklaring van die geskiedenis van biologiese kompleksiteit op die planeet Aarde. Die Russiese wetenskaplike Theodosius Dobzhansky merk tereg op dat niks in biologie sin maak behalwe in die raamwerk van evolusie nie. (Claassen p. 30) Maar dit is al.

Biologiese ontwikkeling volgens die ewolusieteorie gee nie ’n verklaring vir die oorsprong van die lewe nie, en kan ook slegs ’n geringe bydrae lewer tot gesprekke oor etiek. Die teorie sê ook niks oor vryheid of die bestaan van God nie. Die werklike probleem met ewolusie is nie die ongeldigheid daarvan nie, maar die beperkte verklaringsvermoë wat natuurlike seleksie bied. Evolusie is niks meer as die historiese verklaring van hoe lewe op aarde ontwikkel het en geleidelik meer kompleks geword het nie. Ons het hier met vooroordeel op sy slegste te make. Op die beste, sê Hans-Georg Gadamer, het ons altyd met vooroordele te make. Wanneer jy ’n boek optel en begin lees, betree ’n mens daardie wêreld met die perspektiewe wat jou as mens gevorm het. Maar as jy nie gedurig die vooroordele waarmee jy werk bevraagteken nie, sal jy nooit as denker groei nie.

Daarom is die ding wat ons hier pla, juis die aanmatigende idee wat in baie van Claassen se onderhoude opduik – dat vooroordeel net by gelowiges plaasvind. Wat veral vir ons interessant is, is dat sommige skrywers daarop aanspraak maak dat hulle opinies en posisies as ateïste rasioneel begrond is, terwyl hulle godsdiens beskuldig daarvan dat dit totaal gegrond is op bygeloof en emosie. Wat ons egter in Claassen en kie se boek sien is dat hulle net soveel gedryf word deur persoonlike emosie en nie-rasionele motiewe. Laat ons verduidelik.

Timothy Keller wys daarop dat enige iemand hul oortuigings vorm – ongeag dit godsdienstige of filosofiese oortuigings is – deur ’n kombinasie van drie elemente naamlik, intellektuele oorweging, sosiale konteks en emosionele faktore.

Intellektueel: Almal van ons grond dit waarin ons glo op dit wat ons dink ons verstaan of dit wat ons dink ons saak versterk. Soms verander ons opvattinge omdat ons nuwe feite of redes bekom waarvolgens ons dan ons opinies verander om nuwe idees aan te hang. Hierdie is die groot aanspraak wat Claassen en kie maak, naamlik dat hulle eie argumentasies suiwer op gesonde rede gebaseer is en dat geloof emosioneel en irrasioneel van aard is. Keller verduidelik dat dit nie waar is nie en ons is van mening dat baie mense nie bewus is van die sosiale en emotiewe aard van hulle voorveronderstellings nie. Selfs die Franse postmodernis, Michel Foucault, wat gesê het dat alle aansprake tot kennis met magaansprake gepaard gaan, het beweer dat die Kerk veel oper en meer eerlik is met haar magspele as die ‘verdedigers van die wetenskap’ wat so graag in die naam van die Rede en ‘objektiwiteit’ praat.

Sosiaal: Uit vakdissiplines soos die Sosiologie van Kennis (Sociology of Knowledge) is dit baie duidelik dat almal van ons, elke een, ook gevorm word deur die sosiale konteks waarin hy homself bevind (Sien Berger en Luckmann 1967). Hierdie is veral ‘n sterk, implisiete aanklag in Claassen en kie se boek, naamlik dat gelowiges in Suid-Afrika maar net glo omdat hulle sosiaal gekondisioneer is. Hulle weet dus maar net nie van beter nie. Claassen vra die volgende vraag aan Abel Pienaar (267): “Waarom is Afrikaanssprekendes so absoluut identifiseerbaar as gelowige mense? Vanwaar die skepper-god-meem in hul wese?” Pienaar antwoord: “Want hulle ken niks anders nie. Niemand het hulle nog ooit eerlik vertel waarvandaan hul godsdiens en meegaande godsbeeld kom nie”. Met ander woorde, ons is gekondisioneer en ons is nog nooit intellektueel bevry van ons sosiale kondisionering nie. Claassen en kie is natuurlik nét die mense om ons arme agtergeblewenes in te lig!

Die Sosiologie van Kennis maan ons almal egter om nie te vinnig oordele te vel nie, aangesien kennis aan ons almal sosiaal oorgedra word. Niemand van ons is dus immuun teen sosiale kondisionering nie. ‘n Ateïs sou dus ook grootliks ateïsties kon wees weens sosiale kondisionering, soos byvoorbeeld in akademiese kringe waar iemand ietwat irrasioneel beskou word wat te kenne sou gee dat hulle in ’n godheid glo. Oor ’n lang tydperk neem ‘n mens ook maar die standpunte en opinies van jou kollegas aan en val jy vir die sosiale druk. Ateïsme is byvoorbeeld ’n tipies Westerse verskynsel en as iemand soos Claassen in Indië of Sjina gebore was, dan sou hy in alle waarskynlikheid nie ’n ateïs gewees het nie. Almal van ons word dus sosiaal gevorm – Christene, agnostici sowel as ateïste.

Emosioneel: Geen een van ons word egter slegs rasioneel en sosiaal gevorm nie, maar ook deur persoonlike en emosionele omstandighede en faktore. Wanneer ons byvoorbeeld verwerping as kind beleef, dan kan dit die manier vorm waarop ons later besluite neem, nie net oor ons kinders nie, maar oor ons werksverrigting, filosofiese sieninge en ook geloof. Dit is die rede waarom daar sulke vakdissiplines is soos die “Filosofie van die Wetenskap”, “Filosofie van die Geskiedenis”, “Politieke Filosofie,” ensovoorts. Wanneer ons nie bewus is van ons intellektueel-, sosiaal- en emosioneel gevormde voorveronderstellings voordat ons die laboratorium betree nie, dan sal ons oordeelsfoute begaan sonder dat ons dit besef. Dan is ons salig onbewus daarvan dat ons lankal nie meer met die naakte ‘feite’ werk nie, maar met ons eie bevooroordeelde resultate. Hiermee help ’n vak soos die “Filosofie van die Wetenskap” ons. Dit is vir ons duidelik in die boek dat Claassen en sy vriende nét soveel beïnvloed word deur sosiale en emosionele vooroordele as deur rasionele vooroordele.

Wat ons opval is die emosionele belewenisse aangaande godsdiens wat die meeste van die skrywers se wending tot ateïsme of agnostisisme vooraf gegaan het. Dave Pepler (p 76) vertel hoe Johanna van Rooj by die deur van die kerk moes staan en huil by die begrafnis van Dave se pa wat oorlede is aan ’n hartaanval op 57. Hy sê dat dit die laaste dag was dat hy voet in die kerk gesit het en sedertdien het hy nog geen rede weer gekry om sy opinie te verander nie. Nog ’n voorbeeld is Alex Valentine (p 134) wat ontnugter is deur apartheidspolitiek en waarna hy sterk vertwyfeling beleef het. So ook is Willemien Brümmer (p 203-204) is redelik ernstig verneder op ’n ASCV kamp omdat sy eerlike vrae gehad het, waar onvolwasse en onsensitiewe Christene haar gedemoniseer het en die Bybel in haar keel probeer afdruk het! Sy vertel: “Tuis het ek my ma in trane vertel – en daarna enige verbintenis met die ACSV verbreek”. Alhoewel hierdie emosies geheel en al verstaanbaar was en daar beslis onregte teen hierdie persone gepleeg is, kan hierdie belewenisse so ’n sterk emosionele filter word dat opinies gekompromitteer kan word. Hierdie saak is geweldig belangrik aangesien hierdie skrywers daarop aanspraak maak (met die uitsondering van Willemien Brümmer) dat hulle rasionele ‘masjiene’ is wat nie toelaat dat emosie hulle gesonde oordeel besoedel nie. Saam met hierdie voorbeelde is daar sterk emosies te bespeur in die taalgebruik van die skrywers, sterk negatiewe emosies jeens godsdiens en geloof in die algemeen. Die onverbiddelikheid en eensydigheid waarmee godsdiens en geloof summier afgemaak word sonder enige moontlikheid vir heroorweging, maak ons geweldig besorg oor die openheid van sommige van die skrywers as ‘wetenskaplikes’ en laat ons wonder hoeveel emosie betrokke is onder die dekmantel van die ‘rede’. Sommige aannames en vooroordele is so sterk dat dit lyk asof sommige skrywers geloof nooit as sinvol sal beskou nie – al sou die dooies opstaan. Hoor hoe praat Piet Croucamp (p 150): “My weersin in godediens is te groot om ruimte te laat vir enige sporadiese behoefte daaraan”. Wat Croucamp eintlik hier erken is dat hy soveel negatiewe emosie beleef dat hy die moontlike goeie in godsdiens of geloof nie eers sal raaksien nie. “...Ek het nie aan post-traumatiese stress gely nie en ek het ook nooit weer ’n oomblik van vertwyfeling ervaar nie... Die oomblik toe ek die eerste keer na myself as ’n ateïs verwys het, het god en godediens ’n primitiewe verskynsel geword waarop ek neersien.” Croucamp se openlike aggressie verblind hom totaal en al vir enige nuwe insigte en moontlik ook vir insig in sy eie vakgebied. Is dit die houding wat ’n denkende persoon kenmerk?! As daar een eienskap is waaroor ’n wetenskaplike immers behoort te beskik, behalwe sy vermoëns en skoling as navorser, dan is dit om op ’n volwasse manier om te gaan met sy persoonlike gemoedstoestand en gedurig oop te wees vir waarheen ‘n gesprek of getuienis ook al mag lei. Dit lyk egter of sommige gegewens in die wetenskap vir sommige skrywers maar net die verskoning gebied het om God uiteindelik opsy te kon skuif, maar dat daar eerder baie sterk persoonlike redes is waarom sommige van hierdie mense teen geloof kies. ‘n Mens kan nie help om te wonder of dit party van Claassen se gespreksgenote nie meer sal baat om eerder met ‘n goeie sielkundige te gaan praat nie.

 

Dialogue is not simply an exchange of ideas. In some way it is an "exchange of gifts." There is a close relationship between prayer and dialogue. Deeper and more conscious prayer makes dialogue more fruitful. If on the one hand dialogue depends on prayer, so, in another sense, prayer also becomes the ever more mature fruit of dialogue.

 

 - Pope John Paul II

 info@dialoog.co.za