GESKRYF DEUR JOHAN ERASMUS

 

GODSDIENSTIGE PLURALISME

 

Ons lewe in ‘n tyd van politieke korrektheid en verdraagsaamheid is die wagwoord van die dag. Daar word gesê dat ten einde vreedsaam met mekaar saam te lewe in ʼn diverse land soos Suid Afrika, dit belangrik is om nie jou idees op ander af te dwing nie. Daar word gesê dat daar nie iets soos ‘n absolute waarheid bestaan nie, of as dit sou bestaan, dit nie geken kan word nie. Daarom is alles, insluitend geloof, relatief. Dit is daarom goed as mense in ‘n Christen-huis groot geword het, maar om te maak asof dit die beste manier van leef is, is uiters onverdraagsaam en arrogant.

 

Idees soos laasgenoemde word vandag om elke hoek en draai gepropageer, maar die invloede vanuit Hollywood is hieroor seker die duidelikste. Duisende mense is daagliks ingeskakel op programme soos Oprah, waar die aanbieder dikwels haar pluralistiese idees oor die aard van godsdiens prontuit verkondig. Christene word dikwels onnadenkend deur hierdie idees meegesleur, want ons ken almal vriende, familie of kollegas van ander godsdienstige oortuigings wat goeie voorbeeldige lewens leef. En dan wonder ons: Is hulle regtig almal verkeerd en oppad hel toe?

 

Die idee dat daar nie ‘n absolute waarheid is nie (relativisme), is nie ‘n nuwe verskynsel nie. Ons lees in Johannes 18:37-38 hoe Pilatus vir Jesus vra wat waarheid is? Relativisme plaas die Christen in ‘n baie moeilike posisie. Jesus maak byvoorbeeld ʼn eksklusiewe aanspraak op waarheid vroeër in dieselfde evangelie wanneer Hy in Johannes 14:6 aan Tomas sê dat Hy die weg, die waarheid en die lewe is. Met daardie uitspraak maak Jesus al die ander deure op saligheid toe.

 

Dit is baie belangrik om te besef dat alle waarheidsaansprake in essensie eksklusief is. M.a.w. ‘n waarheidsaanspraak sluit noodwendig enige ander opsies uit. Verbeel jou net hoe lekker wiskunde sou gewees het as dit nie die geval was nie. Gestel die onderwyser merk jou som verkeerd: 2 + 2 = 5. In ʼn wêreld waar alles relatief is sou jy tog die volste reg gehad het om hom te konfronteer oor sy onverdraagsame merkpraktyke. Dit is miskien sy waarheid dat die bogenoemde som se antwoord 4 is, maar dit is jou waarheid dat dit 5 is. Die feit van die saak is dat waarheid (in hierdie geval wiskundige waarheid) jou verhoed om enige ander antwoord as 4 te gee.

 

Dit is belangrik om te besef dat dit nie net die Christelike geloof tussen al die ander gelowe is wat eksklusiewe aansprake op die waarheid maak nie. In Islam word dit byvoorbeeld duidelik gestel dat daar net een God is en dat Mohammed sy laaste profeet is. Hierdie aanspraak is egter duidelik in stryd met dit wat die Bybel leer. Omdat hierdie twee aansprake oor wat waar sou wees mekaar weerspreek, is dit onmoontlik dat beide waar kan wees. C. Stephen Evans het dit goed gestel toe hy gesê het, “It is an essential part of Christian faith that Jesus is God in a unique and exclusive way. It follows from this that all religions cannot be equally true. If all religions are equally true, then Christianity is false, and therefore not all religions are true.”

 

Maar is dit nie onverdraagsaam van ons om te dink dat net Christene die waarheid beethet nie? Is politieke stabiliteit nie afhanklik van relativisme nie? Om hierdie vraag te beantwoord is dit belangrik om die term verdraagsaamheid te verstaan. Die konsep verdraagsaamheid beteken tradisioneel dat al verskil ons met ander persone se idees, ons hulle steeds as mense kan aanvaar en respekteer. Die wiskunde onderwyser verdrae die foute wat sy leerlinge maak en help hulle reg. Niemand gaan die wiskunde onderwyser aankla van onverdraagsaamheid omdat hy sekere somme verkeerd merk nie. Inteendeel, die beheerliggaam sal hom eerder aangee vir onbekwaamheid as hy dit wel doen. Die postmoderne betekenis van die term verdraagsaamheid impliseer egter dat ‘n mens nooit mag sê dat iemand anders se standpunt verkeerd is nie. Hierdie nuwe definisie is egter nie leefbaar nie. Indien twee waarheidsaansprake wesenlik van mekaar verskil, kan beide verkeerd wees, of een van die twee reg, maar nie beide reg nie. Omdat waarheid bestaan en omdat dit inherent eksklusief is, kan ons wel in ʼn land soos Suid Afrika aanspraak maak dat ons die waarheid het en kan ons hierdie waarheid met mense deel.

 

Dit bly egter dikwels moeilik om te verduidelik hoe die eksklusiwiteit van die evangelie met die morele strewe van die meerderheid van die aanhangers van die wêreld se ander godsdienste vereenselwig kan word. Ons het dikwels familie en vriende wat nie Christene is nie, maar wat tog as verantwoordelike en goeie mense beskou kan word. Hulle betaal belasting, is lief vir hulle kinders en help graag minderbevoorregte mense. Hoe kan dit moontlik wees dat sulke goeie mense egter vir ewig van God afgesonder sal wees bloot omdat hulle nie die eksklusiewe aard van Jesus se verlossingsboodskap kan of wil aanvaar nie? Alhoewel dit ‘n moeilike vraag is om te beantwoord, kan ‘n mens dit begin antwoord deur oor die volgende analogie na te dink: ‘n Motoris ry vanaf Pretoria na Potchefstroom en oortree nie ʼn enkele verkeersreël behalwe vir ‘n laaste stopstraat waar hy nie heeltemal tot stilstand kom nie. Toevallig is daar by daardie stopstraat ‘n verkeersbeampte op diens. Sou dit help om die beampte te probeer oortuig dat omdat hy vir die vorige 200 km elke verkeersreël gehoorsaam het, hy daarom nie beboet behoort te word nie? Net so verduidelik die Christelike geloof dat niemand onskuldig voor God staan nie (al het hulle ook ‘n goeie lewe probeer lei) en dat Jesus se werk aan die kruis die enigste manier is waardeur ons in ‘n saligmakende verhouding met God kan kom.

 

‘n Noemenswaardige implikasie van ‘n godsdienstige pluralistiese siening is dat dit Christus se kruisdood beroof van die Bybelse betekenis daarvan. In ‘n pluralistiese wêreld waar Jesus net nog ‘n manier na God is, maak dit glad nie sin dat Jesus die marteling en dood van die kruisiging moes verduur sodat mense vergifnis van hul sonde kan ontvang nie. Jesus se dood is dan eintlik maar niks meer as net nog ‘n tragiese voorbeeld van die lot van oproermakers in ‘n onderdrukkende politieke bestel nie.

 

Ten spyte van uitsprake wat dit probeer ontken is dit tog redelik van Christene om aan te voer dat Christus die absolute waarheid is. Dit is verder so dat vir iemand om te reken dat daar nie enigsins ‘n absolute waarheid kan wees nie, is om homself te weerspreek. Is hy dan nie besig om met die aanspraak dat daar geen absolute waarheid is nie, juis ‘n aanspraak tot absolute waarheid te maak nie?

 

Wanneer Christus in Johannes 18:37 voor Pilatus verskyn vertel hy dat sy doel op aarde is om van die waarheid te getuig. Dit is ook nou ons taak as Christene om van daardie selfde waarheid te getuig. Dit is belangrik om te besef dat die boodskap van die evangelie eintlik vir baie mense geweldig aanstootlik is. Dit stoot in effek alle ander opsies na God uit die pad en maak ‘n eksklusiewe aanspraak op die waarheid. Dit is egter van kardinale belang dat ons as Christene in die bediening van God se Woord, nie self die bron van aanstoot moet wees nie. In 1 Pet 3:15 kry ons die opdrag om altyd gereed te wees om ‘n antwoord te gee vir die hoop wat in ons lewe en vers 16 lees verder dat ons dit egter met sagmoedigheid moet doen. Laat ons dus die opdrag om die waarheid in ware liefde te praat elke dag nakom.

 

 

 

 

 

Dialogue is not simply an exchange of ideas. In some way it is an "exchange of gifts." There is a close relationship between prayer and dialogue. Deeper and more conscious prayer makes dialogue more fruitful. If on the one hand dialogue depends on prayer, so, in another sense, prayer also becomes the ever more mature fruit of dialogue.

 

 - Pope John Paul II

 info@dialoog.co.za