GESKRYF DEUR HERMAN CARSTENS

 

ONGEMAKLIK VERDOOF

 

When I was a child I caught a fleeting glimpse,

Out of the corner of my eye.

I turned to look but it was gone.

I cannot put my finger on it now.

The child is grown, the dream is gone.

I have become comfortably numb.

Pink Floyd

 

Soms kry ek daai vae gevoel dat iets nie heeltemal lekker is nie. Ek kan nie dit nie plaas nie nie, maar ek voel bedwelmd, met so ‘n verdwaasde uitdrukking, asof ek besef dat die res van die wêreld vir een of ander grap lag wat ek nie gevang het. Dis ‘n eensame gevoel, so asof mens se geestesore tuit, en jy wonder soms of jy die enigste persoon op aarde is wat ooit so voel. Oral rondom jou lag die wêreld – die water, die bome, die wolke, selfs die klein kindertjies. Maar dis asof jy nie die grap vang nie. Hoekom vang jy nie die grap nie? Êrens het die 50Hz stadsgedruis, die sorge van die lewe en die verleidelikheid van rykdom ons bedwelm.

 

Ek het vriend wat sulke meditatiewe wegbreektoere reël. Hy het lang hare en ‘n baard, en party mense sal hom seker ‘n hippie of ‘n heiden noem. Hy sê ons groot probleem is onbewustheid. Dit het my laat besef dat ons so verdoof geraak het deur die internet inligtingsoorlading en die prentjies op TV dat ons ons verwondering verloor het: ons het al als op TV klaar gesien voor ons dit self ervaar het. As ons reis, byvoorbeeld, gaan kyk ons na al die dinge op ons lysie, maar slegs die landskap het verander, veilig verseël agter ons opgerolde, getinte, splintervrye karvensters. Ons het nooit self verander nie. Ons kon net sowel die motor in die motorhuis parkeer het, met rekenaarskerms in plaas van vensters. Om die waarheid te sê, die enigste bewyse dat ons ooit daar was is ‘n 3Mb jpeg foto op ons C-skyf wat ons hou om vir ander mense, en soms onsself, te bewys dat ons daar was. Nes ons vakansiefoto’s die werklikheid ‘n laag terugskuif het, is ons so afgestomp, of eerder verdoof en bedwelm deur beelde van hongersnood in Sudan, dat ons heel gemaklik die bedelaar by ons hek kan ignoreer. Ons verander maar net die kanaal na wat elders in die huis aangaan sonder om iets te voel.

 

En tog spook Sehnsucht, of eerder my gebrek daaraan, by my. Dit is daardie soete verlange waarvan Pink Floyd in die openingsaanhaling praat. CS Lewis sê daarvan dat “alle dinge wat jou siel ten diepste bekoor het, is maar wegwysers hiervan – prikkelende, skramse blikke, beloftes wat nooit heeltemal vervul word nie, eggo’s wat wegsterf nes dit jou oor bereik. Maar as dit voor die dag gebring sou word – as die eggo nie sou wegsterf nie, maar eerder sou opbou tot die klank self – sou jy dit ken. Bo enige moontlike twyfel sou jy sê ‘Hier, uiteindelik, is die dít waarvoor ek gemaak is.’ Ons kan mekaar nie daarvan vertel nie. Dit is die geheime kenteken van elke siel, die onuitspreklike en onversadigbare verlange... Wat ons steeds op ons sterfbed sal begeer.”

Hoe herroep ons hierdie Sehnsucht? My hippie-vriend hou vol dat ons bewustheid kweek deur meditasie. Ek stem saam dat die wêreld ‘n beter plek sou wees as almal vir ‘n uur ‘n dag sou mediteer, maar ek vind dat ek bewustheid deur ‘n gans anderse dissipline kweek. Die tye wat ek die nederigste en ook die teenwoordigste is, die meeste waardering vir dit wat om my aangaan het en vir die mense wat die ruimte met my deel, is die oomblike wat ek die dankbaarste is. Dankbaarheid, en sy suster liefde, is die naaste ding aan die hemel wat ons het, nie omdat ons ons begeertes ontken in ‘n Oosterse sin nie, maar omdat die siel dan ander-gefokus is. Dit is nie vryheid van bande (attachments) nie, maar die verdieping in verhouding wat lei tot self-vergeetagtigheid. Soos Plato gesê het, innerlike harmonie word bewerk deur die die behoorlike ordelikheid van begeertes binne die self, nie die afwesigheid daarvan nie.

So wat is die sleutel tot dankbaarheid? Alhoewel die Christelike idee van vryheid die afwesigheid van dwang en determinisme insluit, is ware vryheid vryheid van skuld, soos Duncan Reyburn sê. Dít is die stewigste onderbou vir diep, egte dankbaarheid. Of jy nou die storie van Jesus glo of nie, as die blote moontlikheid van ‘n God wat bestaan en aarde toe kom om tussen ons te leef, jou nie tot in jou siel ruk nie, het jy net nog nooit eerlik daarmee geworstel nie. As ‘n bloot pragmatiese oorweging is die storie van Jesus die kragtigste bevrydingsmiddel vir onsself van onsself, om vanuit dankbaarheid lewe, en om die mense en dinge om jou liefhê nes hulle is, gebreke en al, wat die wêreld nog ooit beleef het. En dit maak perfek sin: as die Christelike God bestaan, is Hy die uitvinder van die sintuie, en die Kunstenaar van sintuiglike ervaring. Dankbaarheid is ‘n sentrale tema in Sy teologie, en heel toevallig die kragtigste ontsluitingsagent vir soete hiperbewustheid, soveel so dat dit die effek van chemiese dwelms of Oosterse meditasie soos ‘n leë namaaksel laat lyk.

Herman blog by standard-deviations.com

 

Dialogue is not simply an exchange of ideas. In some way it is an "exchange of gifts." There is a close relationship between prayer and dialogue. Deeper and more conscious prayer makes dialogue more fruitful. If on the one hand dialogue depends on prayer, so, in another sense, prayer also becomes the ever more mature fruit of dialogue.

 

 - Pope John Paul II

 info@dialoog.co.za