GESKRYF DEUR JOHAN ERASMUS

 

DIE EVANGELIE VOLGENS SUPERMAN

 

Ek gaan die omstrede stelling maak dat Hollywood meer in gemeen het met die moderne Afrikaanse tiener as sy of haar ouers. Ma en pa kompeteer met die 3 i’s, naamlik i-Phone, i-Pad en i-Pod. Vir ‘n MAT (Moderne Afrikaanse Tiener) kom dit neer op die keuse tussen ‘n bingo-wedstryd en paintball. As ma en pa nie eens kan kompeteer nie - wat beteken dit dan vir die dominee? Kom ons wees optimisties en sê dit is een van daardie ‘hipster’ jeugpredikante. Hy dra sy skinny jeans en spandeer baie tyd aan sy hare sodat dit lyk of hy niks tyd aan sy hare spandeer het nie. Sy woordeskat is die van die kinders en soms praat hy Afrikaans ook. Hy is ‘cool’ en hy glo in Jesus. Trouens, hy vertel stories van hoe Jesus sy lewe verander het en hoe hulle nou saam ‘journey’. MAT maak die afleiding dat kerk nie so sleg is nie. Die band maak lekker musiek, die jeugdominee wat hulle sommer op sy naam noem is ‘with it’ en daar is baie ander tieners van die ander geslag – so dit is basies Menlyn op ‘n Saterdag, net met Bybels.

 

Alhoewel die jeugwerker sy bes doen om die tieners se taal te praat is daardie gesprek slegs ‘n uur op ‘n Sondag. So wie kry die ander tyd?

Hollywood.

 

Glee, Twilight, How I met Your Mother, MTV en ‘n paar gigabyte se ander goed.

 

Kom ons wees eerlik, om met Channing Tatum, Taylor Swift of daardie mooi oukie van Twilight te kompeteer is byna onmoontlik. Maar, kan die mamma sê, “Dis maar net skadelose vermaak en dit hou hulle van die strate af”? Nee, nie in die ‘Maak Jou Huis Skoon, Want Die Satan Luister MTV’ sin van die woord nie. Die feit is dat flieks, reekse en liedjies nie bloot daar is om jou te vermaak nie; daar word altyd bepaalde idees, of ‘n wêreldbeskouing soos die slimmer mense sal sê, te koop aangebied. Dit is nie waar vir elke minuut van elke storie nie, maar om te dink dat die Matrix net gaan oor Keanu Reeves wat moet kies tussen twee pilletjies, is onsettend naïef.

 

My gunsteling programme op TV (en hier gaan jy my begin oordeel as jy nie reeds het nie) is stories soos South Park en The Simpsons. Ja, ek weet hulle praat lelik maar die sosiale kommentaar en kreatiwiteit waarmee dit verkondig word, laat ‘n Christen ou soos ek lag, en ek is nie die enigste een nie. Neem die onlangse fliek The Invention of Lying. Dit is ‘n komedie en die hoofakteur Ricky Gervais is vir my bitter snaaks. Die storie speel af in ‘n wêreld waar niemand al ooit gelieg het nie; hulle weet nie wat dit is nie. Êrens gebeur ‘n chemiese reaksie in Gervais se karakter se kop en dan vertel hy die eerste leuen. Sy leuens begin oor geld, maar kort voor lank dink hy godsdiens uit en meeste van die storie handel daaroor dat hy ‘n profeet is en hierdie geloofstorie opmaak. Dis komedie, miskien selfs slapstick komedie, maar die boodskap is duidelik. Godsdiens, God en Christenskap is alles ‘n leuen, iets wat ons opgemaak het. Die storie het nie werklik ‘n ouderdoms beperking nie en ma en pa se jongste kyk daarna op sy i-Pad oppad bosveld toe. Is hierdie fliek, waarvan ek terloops baie gehou het, skadelose vermaak of word daar subtiel, maar doelbewus, met bepaalde idees omgegaan?

Francis Schaeffer het reeds in die 1980’s gesê dat Hollywood ons beste filosowe het. In die 21ste eeu is dit steeds waar.

Christene het ‘n paar opsies. Ons kan laer trek en die sekulêre media uitblok met Facing the Giant en Faith Like Potatoes of miskien uiteindelik ook Faith Like Facing Giants Potatoes. Of ons kan die kultuur uitdaag en aanspreek. Die preek wat ons al hoeveel keer gehoor het oor sout en lig kom by my op. Wat as Hollywood nie net die Satan se instrument is nie, maar ‘n baie kreatiewe en invloedryke bron van idees en vermaak wat die kerk moet gebruik? Wat as die Evangelie so ‘n goeie storie is dat die meeste stories (selfs sekulêr) kenmerke van die Groot Storie het?

 

Dit verander alles!

 

Om ‘n idee op verskillende maniere te vertel is nie ‘n onbybelse idee nie. Oorweeg vir ‘n oomblik die profeet Natan se metodiek om vir Dawid bewus te maak van sy owerspel en moord in 2 Samuel 12. Hy vertel Dawid se verhaal op ‘n ander manier wat hom betrokke maak by die storie en homself uiteindelik laat skuldig bevind. Sou Natan bloot Dawid se dade vir hom herhaal het, dan is ek nie oortuig dit sou dieselfde impak gehad het nie. Dawid het goed geweet wat hy gedoen het. Vertel egter daardie storie op ander manier en die koning sit homself in skaakmat.

 

Dit bring my by Superman.

 

Die nuutste Superman fliek wat deur Christopher Nolan vervaardig is (ook verantwoordelik vir die nuwe Batman flieks) verdien enige Christen se aandag. Trouens, as ek kon het ek elke Afrikaanse Christen gedwing om dit te kyk. Nie alleen omdat Henry Cavill (Clark Kent) sag op die oog is nie, maar omdat hoofstroom Hollywood die Evangelie verkondig! Meeste Christene het al gehoor dat The Chronicles of Narnia se karakter Aslan (die leeu) ‘n Christelike karakter is en dat C.S. Lewis op ‘n allegoriese manier Aslan die verlosser maak in Narnia se fantasiewêreld. Superman is nie veel anders nie. David Goyer wat die draaiboek geskryf het vir Man of Steel, het die volgende gesê:

"We didn’t come up with these allusions of Superman being Christ-like, that’s something that’s been embedded in the character from the beginning."

As jy die bogenoemde sin lees en na die storie kyk sien jy dit om elke hoek en draai. So wat maak Superman so Jesus’rig?

Clark Kent, of Kal-El soos sy Kriptonite pa hom noem, word na Aarde toe gestuur. Hier leen ek ‘n aanhaling uit die 1978 fliek om my punt te maak:

Live as one of them, Kal-El, to discover where your strength and your power are needed. Always hold in your heart the pride of your special heritage. They can be a great people, Kal-El. They wish to be. They only lack the light to show the way. For this reason above all—their capacity for good—I have sent them you ... my only son. – Jor-El (Superman, 1978)

Sekerlik hoef ek dit nie uit te spel nie, maar as jy nog nie van Johannes 3:16 gehoor het nie: God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het. Hierdie boodskap kom op verskillende maniere deur in Man of Steel, maar nêrens duideliker as wanneer Jor-El (Russel Crowe) sy nou volwasse seun terug Aarde toe stuur uit die bose Zod se ruimteskip nie. (Terloops, jy weet jy is Superman as jou aardse pa Robin Hood is en jou buitewêreldse pa, Gladiator). Daar is ‘n oomblik waar Kal-El ‘n baie vreemde posisie inneem en stadig uit die skip beweeg. Aanvanklik besef jy nie lekker wat aangaan nie en dan sien jy die aardbol ver onder. Die pa (Jor-El) stuur sy seun weg en Superman sak in die vorm van ‘n kruis neer aarde toe voordat hy soontoe wegvlieg.

 

Kom ons neem eers ‘n paar tree terug. Die baba Superman, op daardie stadium waarskynlik ‘Superbaby’, word anderste gebore as die ander kinders van Kripton. Hy word op ‘n natuurlike manier gebore, terwyl die ander kinders op ‘n deterministiese genetiese manier ‘vervaardig’ word. Dalk ‘n omgekeerde weergawe van die Maagdelike geboorte? Miskien… Dit was opmerklik genoeg dat selfs Evolution News ‘n opmerking gemaak het oor die Darwinistiese kinders versus die natuurlike kind wat Jor-El genoem word. Om nou oor die besonderhede te redekawel is egter onnodig. Die punt wat die vervaardigers wil maak is duidelik, hierdie seuntjie is anders!

 

Die baba Jor-El gaan dan aarde toe in ‘n 21ste eeuse ‘krip’ waar hy gevind word deur 2 baie eenvoudige mense, Jonathan en Marta. In die oorspronklike storie wat deur die 2 Jode Jerri Siegel en Joe Shuster geskryf is, was hulle name Joseph en Mary – maak daarmee wat jy wil. Hierdie twee bly op ‘n plaas in Kansas, wat deur my Amerikaanse vriende beskou word as die ‘armpit’ van die VSA. Niks goed kom uit Kansas nie. Ook nie uit Nasaret nie! Hierdie is sekerlik bloot toeval, maar steeds pret om mee te speel. Wat egter nie toevallig is nie, is die plek waar hulle die ruimte-krip stoor. Dit is in die stal tussen die plaasgereedskap en vermoedelik ‘n dier of twee. Die toekomstige held van die wêreld word dus groot gemaak in ‘n baie eenvoudige plek op ‘n baie eenvoudige plaas deur baie eenvoudige ouers. Sy ouers se eenvoud word goed uitgebeeld met herhaalde tonele waar Jonathan Kent (Kevin Costner se karakter) met sy hande werk. ‘n Moontlike verwysing na ‘n Josef as ‘n skrynwerker?

 

Voordat ons hierdie rolprent vergeestelik en allerhande Christelike idees inlees, kom ons kyk na wat die oorspronklike skrywers probeer vertel het. Shuster en Siegel was Joods-Amerikaanse emigrante weg van Nazi besette Europa. Vir hulle was Superman ‘n moderne weergawe van Moses. Iemand wat in ‘n mandjie/krip/ruimtetuig weg van sy mense gestuur is om gered te word en later ander te red. Hulle het dus Moses in hulle gedagtes gehad eerder as Jesus, maar om lyne te trek tussen Jesus en Moses is beslis nie ‘n onbybelse praktyk nie. Dit is presies wat die Evangelis Matteus gedoen het in sy verhaal. Hy het Jesus as ‘n tweede Moses geposisioneer om sy lewe en dood tot sy Joodse gehoor te laat spreek. Wat die eerste skrywers van die Supermanstorie beplan het om te doen, is belangrik, maar ons stel egter belang in Man of Steel. Die draaiboekskrywer Goyer het sonder twyfel vir Superman in ‘n mate tot Christenskap laat bekeer, op dieselfde manier wat Matteus gedoen het. Dit is egter nie ‘n verkragting van die teks nie, soos Goyer self argumenteer:

I want to be quick to point out that Superman was created by two Jews, and so as much there are parallels to the Christ story there are also parallels to the Moses story. They literally put their son in a basinnet and send him to another world. It’s the ultimate immigrant story. I think that it’s a saviour story and it’s Got Old Testament and New Testament aspects.

 

Van watter parallelle praat Goyer? Die rolprent loop oor hiervan, met sekere elemente wat ooglopend is en ander meer subtiel.

In my opinie is die treffendste parallel waar Clark Kent worstel oor sy rol en of hy moet ingee aan die owerhede ten einde Zod te keer om die wêreld te verwoes. Sy plek van bepeinsing is ‘n kerk waar hy met ‘n priester gesels. Hulle dialoog is treffend en die priester gee advies: “Sometimes you have to take a leap of faith first. The trust comes later’. Wat egter veel interessanter is, is die feit dat wanneer die kamera op Clark Kent fokus in hierdie gesprek, is daar ‘n prentjie in die venster agter hom wat die toneel skets waar Jesus in die tuin van Getsemane bid. Die worsteling voor die passie. As jy teen daardie tyd nog nie oortuig is wat hierdie fliek probeer sê nie, het jy bonatuurlike ontkenningskragte!

 

Selfs wanneer hy homself oorgee aan die weermag is die simboliek besonders. Hy laat hulle toe om hom te arresteer. Hulle boei hom, maar later word dit duidelik dat hy nie daar is teen sy wil nie. Hierdie herinner nogal aan Jesus se arrestasie in Johannes 18. Daar val die wagte neer as Jesus sy identiteit bekend maak en wanneer hulle uiteindelik bykom, maak Hy seker dat sy dissipels nie saam met Hom vervolg word nie. Wat die skrywer vir ons wil vertel is dat die menslike owerhede niks aan Jesus doen wat Hy nie toelaat om aan Hom gedoen te word nie. Jesus gee Homself aan die mens en die mens gee Hom oor aan Zod (die antagonis). Tydens sy vrywillige arrestasie is daar boonop dialoog wat hierdie intensie verklap. Clark maak melding van die feit dat hy al 33 jaar op aarde is. Altyd gedink Superman is in sy twintigs? Dink weer – hy is 33, want ‘n sekere persoon in die geskiedenis was 33 toe Hy oorgelewer was aan ‘n destydse ‘Zod’. David Goyer verduidelik:

“I wrote it in the script that he was 33 years old, he surrenders himself to humanity and humanity turns him over to the bad guys. We just thought that for decades people have made those parallels and though I myself am Jewish, we just thought, ‘Why ignore it? Why not lean into it?”

 

In hierdie gedeelte van die fliek met die militante oorhandiging/ondervraging, sê Clark iets baie opvallend:

“You are scared of me because you can’t control me, you don’t and you never will, but that doesn’t mean I’m your enemy”

 

Hierdie was waar vir die Joodse godsdienstige leiers in Jesus se tyd en dit is waar vandag. In my lees van die evangelies loop ek my gereeld in hierdie onbeheerbare Jesus vas. In Johannes 8 is Hy die oulikse ou ooit en sê vir die stoute vrou dat Hy haar nie oordeel nie. In Lukas 6 sê Hy vir ons om lief te wees vir ons vyande en dan in Matteus 10 maak Hy die geweldig aanstootlike opmerking dat Hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard. Soveel vir die Prins van vrede. Daar is bevredigende teologiese antwoorde op hierdie sogenaamde weerspreking, maar wat hierdie tekste en soveel ander in die evangelies ons wys is dat hierdie Jesus nie in enige iemand se boksie pas nie. Soos die gesaghebbende woorde van die karakter in Narnia, Mr Beaver dit stel:

“Safe? Don’t you hear what Mrs. Beaver tells you? Who said anything about safe? ‘Course he isn’t safe. But he’s good. He’s the King, I tell you.”

 

In een toneel word Superman as laerskoolkind geboelie. Wanneer die tipiese Amerikaanse boelies hom uit ‘n kar ruk, is hy besig om ‘n boek te lees. Die kamera skuif gou oor die voorblad na ‘n bebaarde man met die naam Plato. Hoekom sou ‘n laerskool superseuntjie Plato lees? Trouens, as ‘n laerskoolkind die Griekse filosoof Plato verstaan is hy reeds Superman, maar ek dink die regisseer wou iets anders wys. Plato het ‘n paar eeue voor Jesus gelewe en in sy ‘2de boek’ van die ‘Republic’ praat hy van ‘n baie indrukwekkende karakter en wat die mens se reaksie op so ‘n karakter sal wees:

 

"So we shall be able to test his justice and see if it can stand up to unpopularity and all that goes with it; we shall give him an undeserved and lifelong reputation for wickedness, and make him stick to his chosen course until death … The just man, then, as we have pictured him, will be scourged, tortured, and imprisoned, his eyes will be put out, and after enduring every humiliation he will be crucified, and learn at last that in the world as it is we should want not to be, but to seem, just.”

 

Die man van wie Plato skryf was waarskynlik Socrates, maar nie een van die Ou Testamentiese profete het geweet hulle is besig om van Jesus te skryf nie. Daar is baie Christendenkers wat vir Plato in die Ou Testamentiese profetiese tradisie plaas. Ek weet nie of ek so ver sal gaan nie, maar ek dink nietemin dit is besonders dat Plato die menslike kondisie so akkuraat beskryf het. Of Plato ‘n profeet is of nie, kan die leser self vir hom besluit, maar die feit is dat die vervaardigers doelbewus vir Plato ingesmokkel het om hom as ‘n profeet van soorte te posisioneer.

 

Man of Steel is oorlaai met parallelle en die intensies is duidelik, maar dit beteken nie dat dit allegories is nie. In ander woorde elke karakter en elke aksie verteenwoordig nie noodwendig iets in die evangelies nie. Wees dus versigtig om die rolprent vanuit so ‘n hoek te benader. Superman is nie Jesus nie en Jesus is nie Superman nie. Superman wen deur te wen en Jesus wen deur te verloor. Vir Superman om ‘super’ te wees veronderstel dit dat hy die helfte van New York verwoes. Jesus verwoes Homself. Wat egter vir my ‘n groot verrassing was, was die einde van die storie. Wanneer Superman vir Zod uiteindelik doodmaak, gooi hy nie ‘n yskoue Hollywood lyn nie. Hy bars uit in trane en skreeu. Geweldig verfrissend vanuit die hoofstad van clichés!

 

Laastens wil ek kyk na die tema oor ‘hoop’ wat gereeld opduik. Die ‘S’ kenteken staan nie vir ‘Super’ nie, maar is eerder die Kripton simbool vir hoop. Later word Superman die verteenwoordiger van hoop. Dit is duidelik aan die begin wanneer sy Kripton pa hom as baba wegstuur met die volgende woorde:

 

Jor-El: Goodbye, my son. Our hopes and dreams travel with you.

Lara Lor-Van: He will be an outcast. They'll kill him.

Jor-El: How? He'll be a god to them.

‘Hoop’ wat ‘n god is?

 

Sonder om hierdie tema in die grond in te ry, word ek herinner aan een van die mooiste Bybeltekste oor hoop. Hierdie kom uit Eugene Peterson se Message vertaling:

“Strip down, start running—and never quit! No extra spiritual fat, no parasitic sins. Keep your eyes on Jesus, who both began and finished this race we’re in. Study how he did it. Because he never lost sight of where he was headed—that exhilarating finish in and with God—he could put up with anything along the way: Cross, shame, whatever. And now he’s there, in the place of honor, right alongside God. When you find yourselves flagging in your faith, go over that story again, item by item, that long litany of hostility he plowed through. That will shoot adrenaline into your souls!” (Heb.12:1-3)

 

Superman se rol as gewer van hoop en selfs ander mitologiese karakters se heldestatus vertel iets van die menslike kondisie. Daar is iets binne ons wat versot is op hierdie stories. Ons is mal oor bonatuurlike figure wat wonders verrig, teen alle aanslae en wanneer daar geen hoop meer is nie, dan kom hulle deur. Hulle offer ook hulle self gewoonlik ook op vir die saak en vir ander mense. In een van die gevegstonele tussen Superman en Faroa (‘n verloklike alien met ‘n Russiese aksent), kom sy agter dat hy swak is in haar teenwoordigheid en sê:

“You are weak, son of El. Unsure of yourself. The fact that you possess a sense of morality and we do not, gives us an evolutionary advantage and if history has proven anything, it is that evolution always wins.”

 

Bogenoemde sinspeel op mag. Mag wen altyd! Tog sien ons in die evangelie hoe Jesus mag terughou. Alhoewel hy aan al die versoeke van die Satan kon voldoen, het Hy gekies om nie daardie tipe koning te wees wat ons almal gehoop het hy is nie. As kind het ek altyd gehoop dat Hy in sy majesteit van daardie kruis sou afkom en al die soldate bang maak, dat hulle almal huil en bekeer. Elke keer wat ek dit gelees het was ek egter teleurgesteld en nie een van die ander evangelies wil die verhaal soveel meer sensasioneel eindig nie. Jesus het gedink dat die wat swak is sterk is en dat die wat die minste is die meeste is. Hy het nie saamgestem met Faroa se naturalistiese en evolusionistiese siening dat mag altyd wen nie. Daar is iets edel aan iemand wat mag terughou vir ‘n groter doel. Of dit nou Superman, Jesus of ‘n CEO is. Soms is die magtigste aksie om daardie mag prys te gee en in die proses ander mense te bemagtig ten koste van jouself. Soos die skrywer van Hebreërs is hierdie die voorbeeld wat ons moet nastrewe. Ons moet kyk wat die persoon gedoen het wat by magte was om enige iets te doen, tog het Hy, soos Filippense sê, nie sy status geag as iets waaraan Hy moes vasklem nie. Die mens wat die meeste was, was bereid om die minste te word. Hierdie is nie net ‘n oulike historiese gebeurtenis nie, maar iets wat ons harte moet verander en vir ons ‘n model gee om na te strewe. In die woorde van Jor-El:

You will give the people an ideal to strive towards. They will race behind you, they will stumble, they will fall. But in time, they will join you in the sun. In time, you will help them accomplish wonders.

 

 

 

 

 

 

Dialogue is not simply an exchange of ideas. In some way it is an "exchange of gifts." There is a close relationship between prayer and dialogue. Deeper and more conscious prayer makes dialogue more fruitful. If on the one hand dialogue depends on prayer, so, in another sense, prayer also becomes the ever more mature fruit of dialogue.

 

 - Pope John Paul II

 info@dialoog.co.za