GESKRYF DEUR ROEDOLF BOTHA

 

WAAROM ‘N GEMEENSKAP SOOS DIALOOG?

 

Ek beskou myself as ’n redelike positiewe ou, maar as ek dit nog een keer moet hoor dan vang ek ’n fit! Ek sit soveel keer met mense wat struikelblokke beleef op hulle pad na geloof wat vir my vrae vra soos “Roedolf, waarom is daar soveel pyn en swaarkry in ons wêreld indien daar ’n God van liefde is?” of, “Ek het Richard Dawkins se The God Delusion gelees en ek weet nie meer of dit wat die Bybel oor Jesus vertel werklik waar is nie” of “Ek kan nie glo nie, want die mense in die kerk is skynheilig en van so ’n sirkus wil ek nie deel wees nie!”, en so gaan dit aan! Maar dit is nie wat my die fit wil laat vang nie! Trouens, ek geniet die gesprekke met mense soos pas genoem geweldig en ek beleef in my eie gemoed heelwat deernis met laasgenoemdes. Wat egter besig is om my na suurmelk te dryf is dat in byna elke liewe soortgelyke gesprek, die mense op die een of ander punt vir my sê dat die kerk hulle net nie kan help om antwoorde op hulle vrae te vind nie! Die Afrikaanse 2011 publikasie getiteld “Hier staan ek...” dien as ‘n monument van hierdie tragiese tendens! Geestelike soekendes moet gedurig na ondeurdagte, cliché-agtige pep-talks luister van Christenvriende, of na vae en onduidelike wasighede deur sommige geestelike leiers. Die gevolg? Geestelike reisigers wend hulleself tot ander godsdienste, spiritualiteite en selfs ateïsme!

 

Laat ek illustreer uit die mond van ’n wyse van lank gelede. Net ’n halwe vers – drie en twintig woorde lank. “Wees altyd gereed om ʼn antwoord te gee aan elkeen wat van julle ʼn verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” Hier word met die kerk van Jesus gepraat. Ons moet kan verduidelik. Hoe vaar ons hiermee? In kort, om dit mooi te stel: Ons suck! Ons is dramaties vrot daarmee om vir mense te kan verduidelik waarom ons regtig glo wat ons glo. Waarom? Want ons weet self nie. Let wel, ons is goed om kits-antwoorde te gee. Ons gooi baie vinnig one liners in soos “Ag jy weet man, jy dínk te veel” (waarop die luisteraar dan wonder of geloof nie werklik vir haar is nie, want sy is ’n denker), of “Glo net soos ʼn kind” (waarop die luisteraar dink: ‘Ja, ek wil, maar help my om oor die barriers te kom’), of “Net die Heilige Gees kan jou oortuig” (waarop die luisteraar dink: ‘Yeah right, maar niemand is bereid om sy werktuig te wees nie’), of “Moenie worry nie, God het ʼn doel met alles” (Waarop die luisteraar dink: ‘Dit kon ek self geraai het, help my egter om hierdie vrae intelligent te verwerk binne-in ‘n geloofsraamwerk’). Vir meeste denkende soekendes is laasgenoemde pogings ’n manier van die kerk om te sê: “Ek weet nie eintlik wat om vir jou te sê nie, so nou praat ek maar nonsens!”

 

Wat die saak vererger is dat wanneer denkende soekers nie hou van ons antwoorde nie, of dit stel hulle nie tevrede nie, dan is ons kwaad en dink ons hulle is net moedswillig. Ons meen hulle wil regtig nou maar net nie glo nie. Dis egter nie waar nie. Ek het nog bitter min mense in my lewe teegekom wat nie wíl glo nie, en ek praat ook van mense buite die kerk en geloof. My ervaring is dat selfs sommige van die gehardste ateïste sal erken dat deep down, diep binnekant in hulleself, is daar iets wat uitskree na die behoefte om te glo. Ongelukkig bly verlore mense verlore, hartseer mense bly sonder hoop en moedelose mense bly moedeloos, die eksodus uit Afrikaanse geloofskringe hou vol omdat ek en jy nie leer hoe om vir sulke mense op ʼn sensitiewe maar logiese manier te verduidelik waarom ons glo nie. Eintlik moet ek dit omdraai. Mense soek sekerlik heel eerste net ’n vriend of vriendin wat kan luister sonder om te oordeel, wat net ’n klankbord kan wees! Ek het al soveel weerstand teen geloof sien verkrummel wanneer mense net bereid is om saam met mekaar vrae te vra, saam te dink en toe te laat dat hul eie geloof selfs tydelik gekritiseer word in ‘n poging om ’n goeie vriend te wees.

 

Wel, anyway, die poging van Dialoog Gemeente is nie om eenvoudige, simplistiese antwoorde op ingewikkelde vrae te gee nie. Daarvoor is die lewe geheel en al te ingewikkeld en te kompleks. Dit beteken egter nie dat ons nie oortuig is van sekere waarhede nie. Trouens ons glo werklik dat die ou bekende storie, die Christelike storie, steeds die beste, die héél beste antwoorde gee op die groot vrae van die lewe en die héél meeste sinmaak van die werklikheid soos wat meeste mense dit beleef. Ons glo onder andere in Jesus en God-Drie-enig, nie omdat ma en pa ons so grootgemaak het nie maar omdat omdat Ateïsme en agnostisisme ons koud laat en nie genoegsame intellektueele antwoorde gee op kritiese lewensvrae nie, omdat ons dink dat die hedendaagse tendens van panteisme en panenteisme onder Afrikaners vandag nie vir logies sinmaak en intellktueel volhoubaar is nie. Ons glo omdat dink dat alle wesenlike menslike begeertes die beste aangespreek word in die openbaring deur Jesus. Ons glo omdat die Bybel vir ons die beste verklaring gee vir wat fout is met die wêreld en die menslike kondisie. Ons glo omdat God in Jesus vir ons die beste manier gee om te kan omgaan met ’n gebroke mensheid om ons, naamlik met genade en vergifnis. Sonder die Christelike storie het sulke waardes geen genoegsame intellektuele gronde nie. Ons glo omdat vergifnis en liefde ’n bevrydende, nuutmakende effek op die menslike psige openbaar en dat die Christelike verhaal vir ons die beste intellektuele grondslag gee hiervoor. Ons glo verder omdat ons dink dat Jesus se projek van die koninkryk van God, die beste moontlike toekoms (Liefde, vrede en geregtigheid) belowe vir hierdie huidige wêreld, sowel as ’n toekomstige. Ons glo omdat ons dink dat die aansprake wat Jesus oor Homself maak uniek is en Hy jou nie toelaat om Hom te beskou as een van baie moontlikhede nie. Ons glo omdat die lewe, dood en opstanding van Jesus histories genoegsaam nagevors kan word om menslike rede te bevredig. Ons glo omdat ’n Trinitariese Wese soos geopenbaar in Jesus, die beste rede gee vir liefde as die hoogste waarde in die heelal. Ons glo omdat omdat die intellektuele slaankrag en verklaringspotensiaal van die Christelike storie gesien kan word in die verhale van mense (ook intellektueles) wat vandag nog tot geloof kom as gevolg van die blote meriete van die verhaal self. Ons glo omdat die Christelike storie vir ons die beste manier gee om te cope met swaarkry en lyding. Ons glo omdat ons dink dat die drie belangrike menslike waardes van “goedheid, skoonheid en waarheid” die volledigste gevind word en tot vervulling kan kom in die Christelike Geloof. Jesus laat my toe om alle mooi, waar en goeie dinge in die kultuur te waardeer en daarmee in gesprek te tree. Ons glo omdat die Christelike verhaal, gegrond in die rede intellek, vir ons hoop gee op die toekoms en ons voorsien van doel en betekenis vir ons lewens.

 

Ek besef dat nie een van bogendoemde stellings hier beredeneer of verduidelik word nie, maar dit is waarmee Dialoog Gemeente homself besig hou. Ons bespreek, bedink en beredeneer hierdie sake onder mekaar. Daar is heelwat lede van ons community wat geensins seker is van wat hulle glo nie. Dis ok. Ons probeer egter ’n konteks skep waar mense eerlik kan sê wat hulle glo of wat hulle dink sonder enige vrees vir verwerping. Régtig. Dialoog is ’n community waar mense hulle idees kan opper en hulle opinies intellektueel kan toets in ’n veilige omgewing. ’n Gemeente íéwers móét die geleendheid skep. Dit kan nie anders nie, dit moet net!

 

 

 

 

 

Dialogue is not simply an exchange of ideas. In some way it is an "exchange of gifts." There is a close relationship between prayer and dialogue. Deeper and more conscious prayer makes dialogue more fruitful. If on the one hand dialogue depends on prayer, so, in another sense, prayer also becomes the ever more mature fruit of dialogue.

 

 - Pope John Paul II

 info@dialoog.co.za